Regina Parpiewa – blinde joernalis

VOORDAT die 21-jarige Russiese aspirant-joernalis Regina Parpiewa ’n onderhoud met ’n belangrike mens voer, bestee sy soms ’n hele dag aan die maak van ’n geskenkie wat sy aan die persoon wil gee. Haar belangrikste onderhoud tot dusver was met haar land se president, Wladimir Poetin, toe sy maar 17 jaar oud was. Hul gesprek is regstreeks op die televisiekanaal RT uitgesaai. “Wat ’n wonderlike man is my president nie!” sê die sprankelende, blinde student. “Hy het ’n nuuskonferensie van vier uur gehou en daarna omgestap vir ons onderhoud van 20 minute,” vertel die ondernemende student. Aan die einde van hul gesprek het Regina ’n hondjie wat sy van klei gemaak het, aan die staatshoof gegee. Iemand het dit by hom geneem om vas te hou terwyl hulle nog ’n paar woorde gewissel het. 

“Toe President Poetin opstaan om te loop, het hy gevra waar sy geskenk is. ’n Mens kon dit op baie van sy latere verskynings op televisie voor hom sien. Ek het soveel respek vir ons leier,” sê sy. Aan die einde van die onderhoud het sy aan Poetin gevra of sy aan hom mag raak. Sy het met haar hande oor sy gesig gestreel en gesê  hy is ’n uiters aantreklike man. Regina het ’n seldsame siekte, neuromyelitis optica, ook bekend as Devic se Siekte, opgedoen toe sy agt jaar oud was. Haar enigste hoop was ’n rugmurgoorplanting. In daardie stadium kon sy nie meer praat of stap nie en het sy blind geword.

“Daar was ’n burgeroorlog in my liggaam. Ek het nie eens krag gehad om te glimlag nie; my hele liggaam het opgehou funksioneer,” vertel sy. “My broer Timoer was 17 jaar oud en het ingestem om ’n rugmurg-skenker te wees. Destyds het geen kind ter wêreld al so ’n oorplanting oorleef nie. My liggaam het ongelukkig die oorplanting verwerp.” Sy het soms gevoel sy wil nie meer lewe nie, erken sy. “Timoer, nou 27 jaar oud, het ingestem om nog ’n keer van sy beenmurg aan my te skenk en dié keer – en ná baie chemo-behandeling – het dit gewerk.  Ek was die eerste kind ter wêreld wat so iets oorleef het. Nou is ek ’n veteraan,” sê sy met ’n laggie. 

Sy het destyds dingetjies van klei begin maak ook geleer klavier “en ’n bietjie kitaar” speel. “Ek het daarvan begin droom om met dolfyne te swem en is aangeraai om eers te begin swem.  Nou is ek die trotse houer van verskeie medaljes, waaronder ook goues,” spog sy.

Op die ouderdom van 21 het sy ook al perdgery en ’n tandem-valskermsprong gedoen. Oor haar toekomsplanne sê sy: “Ek wil graag mense help en het besluit om dit te doen deur in die joernalistiek te studeer. Ek is byna klaar met my derde jaar en gaan dan my meestersgraad aandurf.” So tussenin sê sy half verskonend sy is jammer, maar sy het min geslaap en baie lesse bygewoon. Haar oë is moeg. Maar eers wil sy vir my ’n geskenkie gee wat sy gemaak het. Dis ’n kameelperdjie, my gunstelingdier, van klei gemaak. Sy het twee uur daaraan gewerk.

Toe is dit my beurt. Sy moet my asseblief verskoon, vra ek terwyl ek sukkel om van die knop in my keel ontslae te raak. Ek het ook vir haar iets saamgeneem: ’n eksemplaar van een van my boeke.  “Is dit die een oor die Boere en die Russe?” vra sy toe ek dit aan haar oorhandig. 

Soos ’n goeie joernalis het sy vooraf huiswerk gedoen. Sy weet van my en Nico Moolman se boek, Persoonlike Vriendskappe: Boere & Russe, wat deur dr Monika Urb en tien van haar studente van die Afrikaans-department van die Moskouse Staatsuniversiteit in Russies vertaal is. Regina hou die boek in haar hande en streel oor die papier. “Dis ’n hardeband, my gunsteling. En glanspapier. My ma gaan alles vir my lees en van die foto’s vertel,” sê sy opgewonde. Ons sit langs mekaar vir ’n foto en sy sit haar hand op my kop. “Jy is so lank,” sê sy. (Sy is klein en daarom meen sy ek is lank.)

Sy wil my ook oor my loopbaan van 50 jaar in die koerantwese uitvra. En sy sal graag Suid-Afrika toe wil gaan en ’n paar onderhoude voer, sê sy. Die universiteit se vakansie begin op 25 Januarie aanstaande jaar. “Kan ons môre weer bymekaarkom, want ek wil hê julle moet aan Arwin, my gidshond, raak. Ek kry julle by die fonteintjie naby die universiteit waarin Arwin graag swem. Soms gaan haal hy my baadjie en dan weet ek hy wil gaan loop,” sê sy. Sy en Arwin gaan soms alleen na die Metrostasie en dan ry hulle met die trein na die middestad as sy iets daar moet gaan doen. “Voor ek gaan, wil ek aan jou skouers voel,” sê sy. Sy doen dit en sê: “Jy het breë skouers.” 

Die volgende dag ontmoet ons haar en haar ma, Goelnara, by die Universiteit en ons stap ’n kilometer ver om te gaan kyk waar Arwin saam met die eende swem. Daarna, op pad terug hotel toe, wéét ek al dat nóg ’n stukkie van my hart gedurende my 19de besoek aan Moskou aan ’n klein Rus behoort.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *